top of page

Resensie: Storm – Coffee Snobs


Soms gebeur dit dat ʼn nuwe kunstenaar of groep ʼn liedjie

vrystel wat onmiddellik ʼn groot treffer word en ʼn mens laat

uitsien na ʼn debuutalbum.

Coffee Snobs het vroeër vanjaar vir die eerste keer onder die

publiek se aandag gekom toe hul eerste enkelsnit, “Sê my”,

vrygestel is, maar dit was eers toe hulle dit met “Eie land”

opgevolg het, dat mense regtig van hulle kennis begin neem het.

Nou is hul debuutalbum, Storm, eindelik beskikbaar en die vraag

is of hulle op die sukses van laasgenoemde liedjie kan voortbou.

“Sê my” is die eerste snit op die album, en dis jammer dat dit reeds lankal radiolugtyd begin kry

het omdat sy potensiaal om ʼn treffer te word, dalk effens ondermyn is deur die feit dat

niemand op daardie stadium van hulle geweet het nie. Die lirieke is reguit en eerlik en hulle

draai beslis nie doekies om nie! Soos die meeste ander snitte op die album is dit ʼn komposisie

van die hoofsangeres en kitaarspeler Venette Wessels. Venette het ʼn baie goeie altstem

waarna ʼn mens heeldag kan luister.

Die tweede snit is die eerste Engelse een, “I don’t cry”, wat ʼn lekker countryklank het en baie

beslis verdien om gereeld oor die radio gehoor te word. Hierdie snit kan hulle onder die aandag

bring van radiostasies wat nie in Afrikaanse musiek belangstel nie.

Dis maklik om te verstaan waarom “Eie land” so gewild geword het. Die musiekverwerking

herinner effens aan dié van Timbaland en One Republic se treffer “Apologise”, maar gelukkig is

dié ooreenkoms net van verbygaande aard.

“Die storm” sal hopelik die volgende treffer word; die kitaarwerk daarop is uitstekend. Hierdie

snit het ʼn effens Christelike aanslag, maar dit is ʼn goeie ding. “Lucky” is nog ʼn uitstekende

oorspronklike Engelse snit wat by ʼn groot gehoor byval behoort te vind.

Nog ʼn snit met ʼn Christelike inslag is “Skuiling”; weereens is dit ʼn snit met trefferpotensiaal.

Daar is geen rede waarom ʼn Christelike snit nie ʼn treffer kan word nie. “Dromer” verwoord die

ontnugtering van grootword baie goed; omtrent enigiemand sal hiermee kan identifiseer.

In “Your love” sing hulle van die verskil wat iemand wat jou liefhet, in jou lewe kan maak. Die

laaste snit, “Falling back”, is nog ʼn moontlike treffer; dis net jammer dat dit aan die einde van

die CD voorkom.

Daar is deesdae min kunstenaars of groepe wat met werklik oorspronklike musiek vorendag

kom en wie se musiek deurgaans van hoogstaande gehalte is. Coffee Snobs is een van dié wat

in hierdie kategorie val; hul woorde het baie meer om die lyf as dié van die gemiddelde

radiotreffer en die musikale verwerkings op hierdie album is skitterend. Daarom is dit die

moeite werd om hierdie album in die hande te probeer kry; dit is heel moontlik een van die heel

beste debuutalbums wat in ʼn baie lang tyd vrygestel is!


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page