top of page

Coffee Snobs Aroma


Musiek vir connoisseurs. Dis die musiek wat Coffee Snobs - Vernette Wessels saam met haar man, Marius - op hul debuutalbum Aroma skep: geurig en smaaklik.

Kinders van die wind

Vernette en Marius is albei uitstekende liedjieskrywers en van hul werk is reeds deur Laurika Rauch, Jakkie Louw en die sopraan Suzaan Rentzke opgeneem. Dié album bevat elf vars, vernuwende, oorspronklike komposisies – én ‘n indrukwekkende weergawe van Koos du Plessis se tydlose skepping, Kinders van die wind. Die progressiewe kitaar- en perkussiegedrewe verwerking, grootse orkestrasie en Vernette se suiwer stemkrag en emosionele interpretasie is oorrompelend.

Eie land

Die toonvenstersnit, Eie land, het die Top 20-treffersparades op verskeie radiostasies behaal en op sommige tot boaan geklim. Dié lied is ook gebruik as die amptelike liedjie vir die 2016 Old Mutual Joburg2c-bergfietswedren; die eerste Afrikaanse liedjie nóg om hierdie eer te ontvang.

Dit is ‘n positiewe lied wat, ánders as die meeste soortgelyke liedjies met ‘n steurende en misplaaste patriotiese inslag, die hartsnoere opbouend roer en ‘n mens trots op Suid-Afrika laat voel. Ook die opheffende snit Utopia: ‘n musikale smag na ‘n gelukkige Suid-Afrika.

Komplekse produksie

Ontsettende sorg is met die komplekse produksie getref om ‘n unieke klank te skep - in ‘n versnit van vele genres: ‘n deeglike sopie poprock en folk, ‘n teug country en ‘n spatsel jazz.

Die treffersnitte: Sê my – I don’t cry – Eie Land – Die storm – Lucky – Skuiling – Monday – Dromer – Your love – Falling back – Kinders van die wind – Utopia.

Coffee Snobs se puik tweetalige debuutalbum, Aroma, het ‘n kragtige geestelike ondertoon, maar hulle is nie ‘n gospelgroep nie. Vernette sê hoewel hul debuut-album tweetalig is, is almal se moedertaal Afrikaans. “Dit is ons eerste liefde en grootste fokus.

Coffee Snobs se musiek is nie net uniek nie, maar het ook diepte. Dit is musiek vir die fynproewer en proe soos soetkoek saam met 'n lekker koppie boeretroos.

Geniet die aroma van musikale integriteit.


Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page