top of page

Ken jy die Coffee Snobs?

Die Coffee Snobs skep musiek vir connoisseurs – en hulle bederf jou in hul album Aroma met ryke klanke.

Die album is aanvanklik met vier sterre in Huisgenoot beloon toe Venette Wessels en haar man, Marius, nog deel was van ’n vierstuks en die album se naam Storm was.

Die paartjie het egter hul eie koers ingeslaan en hul debuutalbum herdoop, ’n nuwe baadjie aangetrek en twee bonusssnitte ingesluit.

Die vraag is: Ken jy die Coffee Snobs?

Die egpaar gesels oor hul nuwe musiekvideo en waar hulle mekaar ontmoet het.

Hoe was dit om die musiekvideo te skiet? Dit was ’n fantastiese ervaring! Ons het baie min tyd gehad vir die shoot, letterlik een dag, want Albert het spesiaal opgevlieg van die Kaap af en moes die middag weer terugvlieg, maar die hele span was uiters professioneel en het alles vooraf haarfyn beplan. Nadia Beukes en Albert Maritz (die gewilde vermaakpersoonlikhede wat die hoofrolle in die video vertolk) was net absoluut amazing! Geen wonder hulle is twee van ons land se bestes nie; die emosie wat hulle in die video inbring, is so treffend, ’n mens kan nie help om diep geraak te word deur hul toneelspel nie.

Waar het julle die inspirasie vir die liedjie gekry? Wel, soos enigiemand het ons ook al deur moeilike tye in ons lewe gegaan en dit was een van hierdie moeilike ervarings wat gelei het tot die liedjie. Toe dit voel of my wêreld heeltemaal in duie stort en daar niks is om aan vas te hou nie, het ek besef daar is net een plek waar ’n mens kan skuiling vind in sulke situasies en dit is by die Here.

Hoe het julle met die konsep vir die musiekvideo vorendag gekom? Ons het koppe bymekaar gesit met die regisseur Corrie Uys van Llamafactory en almal insette en idees rondgegooi, maar dit was hy wat op die ou end met die idee van die outer body experience vorendag gekom het en dit is nogal iets unieks wat nog nie baie gebruik is in die Afrikaanse musiek bedryf nie!

Watter soort musiek luister Coffee Snobs? Enige goeie musiek! Maar ons hou veral van Coldplay, ’n bietjie Elvis, old school rock en rond dit af met ’n tikkie ligte klassieke musiek van André Rieu.

Waar het julle mekaar ontmoet? Op ’n kerkkamp! Hulle sê mos dit is waar ’n mens die heel lekkerste vry;).

Hoe is dit om saam met jou ander helfte in ’n groep te wees? Dit is bitter lekker! Een van die nadele van musikant wees, is dat ’n mens baie weg is van die huis en daarom is dit so ’n groot voorreg om dit saam te kan doen. Ons is ook ’n baie goeie span en vul mekaar goed aan. Marius is uitstekend met die bestuur en bemarking van ons musiek, terwyl ek hoofsaaklik die liedjies skryf en verwerkings doen. Dit werk soos ’n goed ge-oliede masjien!

Watter rol speel geloof in jul musiek? Dit speel ’n baie groot rol, want dit speel ’n baie groot rol in ons lewens. Ons is nie ’n gospelgroep nie, maar ons is kinders van God en daarom gebeur dit spontaan dat dit na ons musiek oorspoel.

http://huisgenoot.com/vermaak/musiek/kyk-ken-jy-die-coffee-snobs/

Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
No tags yet.
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page